.png)

oor my
Wes-Kaap, Suid-Afrika · Bekendgestel November 2025
Een vrou. Rou stories. Vars, beeldryke en uitdagende Afrikaanse musiek.

.png)
Oor Digsuster
Die Vrou in die Masjien
Agter Digsuster is net een vrou met 'n baie besige, beeldryke kop.
Ek voel dinge diep, dink baie, en merk dikwels die klein verskuiwings raak wat ander maklik miskyk. Wanneer ek iets nie mooi kan verstaan of hardop kan verduidelik nie, verander dit gewoonlik in 'n storie, 'n gedig of 'n liedjie.
Digsuster is nie 'n karakter wat ek aangetrek het nie, en ook nie 'n span of 'n persona wat los van my bestaan nie. Dit is die deel van my wat nog altyd stories wou vertel, maar vir baie lank nie geweet het hoe om haarself hoorbaar te maak nie.
"AI het nie vir my die droom, die stories of die emosies gegee nie. Dit het my net 'n manier gegee om dit hoorbaar te maak."
.png)
Hoe het jou musiekreis begin?
In 2025 het ek begin speel met Suno. Aanvanklik het ek net simpel jingles vir kliënte se bemarkingsvideo's gemaak. Rondom November daardie jaar het ek vir 'n vriendin 'n liedjie geskryf en besluit om te kyk wat sou gebeur as ek dit deur Suno probeer lewe gee.
Daardie liedjie was Laat My Weet. Binne dieselfde dag het ek al die profiele en platforms opgestel, en so het Digsuster ontstaan.
Hoe sou jy jou musiekstyl in drie woorde beskryf?
Vars. Beeldryk. Uitdagend.
Vars, omdat ek genres meng op 'n manier wat ek nie gereeld in Afrikaanse musiek hoor nie. Beeldryk, omdat ek musiek baie visueel ervaar — 'n lied het vir my 'n vertrek, kleure, lig, teksture en mense wat daarin leef. Uitdagend, omdat ek graag skryf oor die dele van onsself waarna ons nie altyd maklik wil kyk nie.
Skryf jy die lirieke self, of help AI met die skryfproses?
Ek skryf my lirieke self. My lirieke en skryfwerk is vir my belangriker as enigiets anders. Ek is baie spesifiek oor die melodie en produksie, maar die woorde is waar die storie en gevoel lê.

Watter liedjie beteken die meeste vir jou, en waarom?
Gee Haar Terug. Dit gaan oor die rou vir die weergawe van jouself wat jy iewers langs die pad verloor het. Daar is liedjies wat tegnies beter klink, maar Gee Haar Terug voel steeds soos die naaste wat ek nog aan myself in 'n lied gekom het.
Sterre Kind en Wilde Dinge is ook albei baie na aan my hart.
Hoe kies jy die stem, klank en emosie van jou liedjies?
Ek vra nie eerste "Watter genre moet hierdie lied wees?" nie. Ek vra: "Waar moet hierdie lied jou tref?"
Baie mense dink Digsuster is 'n span of 'n duo omdat ek gereeld twee stemme en duette gebruik, maar Digsuster is net ek. Die manlike stem verteenwoordig nie 'n tweede kunstenaar nie — dit is 'n narratiewe stem wat my help om die ander kant van 'n verhouding of emosionele botsing lewe te gee.



Wat hoop jy mense voel wanneer hulle na jou musiek luister?
Ek hoop eerstens dat hulle minder alleen voel.
Daar is baie mense wat nie besef hoe kragtig hulle eintlik is nie, omdat hulle die dele van hulself onderdruk wat volgens ander onaanvaarbaar is. Ek wil hê mense moet hoor en voel dat daar nie iets fout is met hulle nie. Dat hulle genoeg is.
Wat kan jou aanhangers volgende van jou verwag?
Meer eerlikheid.
My aanhangers kan dieper stories, groter visuele wêrelde en meer onderwerpe verwag waaroor mense nie altyd maklik praat nie. Ek gaan my aanhangers saam met my na die donkerder kamers toe neem — nie om daar vas te sit nie, maar om te kyk wat ons al die jare daar toegesluit het. En dan loop ons saam die pad terug na egtheid.
.png)