STUKSTOF // Transmissie twee
- 2 days ago
- 3 min read
Ek weet nie hoe om op te gee nie
Iemand het op een van my posts gecomment: “Jy weet net hoe om daai seer punt om te skakel in ‘Fok dit’.” En ek dink dis dalk een van die raakste goed wat iemand al oor my musiek gesê het.
Want my songs was nog nooit regtig sad opgee songs nie. Hulle klink dalk hartseer vir iemand wat net die wond hoor, maar onder die seer lê daar altyd iets anders. ’n Skakelaar. ’n Vuur. Daai oomblik waar jy besef jy gaan nie weer op die vloer bly lê net omdat iemand anders gemakliker voel wanneer jy klein is nie.
Ek moes in my eie lewe oor en oor en oor opstaan. Nie mooi nie. Nie maklik nie. Nie soos in ’n fliek waar iemand jou hand vat en sê: “Kom, ek het jou.” Baie keer was daar niemand wat regtig geweet het hoe diep ek geval het nie. Ja, ek het mense wat my liefhet. Ja, ek het ondersteuning. Maar daai oomblik waar jy uit jou eie pyn moet opstaan, daai deel kan niemand vir jou doen nie.
Jy moet self besluit. Jy moet self jou gesig was, self jou asem terugkry, self die deur oopmaak, self weer begin. Jy moet self kyk na alles wat jou amper gebreek het en besluit wat jy daarmee gaan doen.
En ek het oor die jare geleer: pyn het krag in hom. Rou pyn is lelik. Dit byt. Dit brand. Dit vat jou slaap. Dit vat jou lyf. Dit vat jou stem. Maar as jy lank genoeg in jou eie donker sit en jy weier om daar dood te gaan, begin iets verander. Die seer word nie skielik mooi nie. Die seer word materiaal.
Jy vat dit, jy breek dit oop, jy haal die krag daaruit en jy maak vuur daarvan.
Dis hoekom ek nie sommer skryf oor opgee nie. Ek weet nie hoe nie.
Ek het al mense laat gaan. Ek het al drome laat gaan. Ek het al plekke, weergawes van myself, valse hoop en dinge wat ek gedink het myne is, laat gaan. Ek het al met my hele hart losgemaak van goed wat ek liefgehad het, omdat dit my begin leeg drink het.
Maar opgee? Nee. Opgee is nie in my vocabulary nie.
Daar is ’n verskil tussen laat gaan en opgee. Laat gaan vat guts. Laat gaan is wanneer jy ophou baklei vir iets wat jou net stukkend hou. Opgee is wanneer jy ophou glo dat daar nog lewe in jou oor is.
Ek het nog nooit opgehou glo daar is vuur in my nie. Selfs toe alles in my lewe uitmekaar geval het. Selfs toe ek nie sterk gevoel het nie. Selfs toe ek nie geweet het hoe môre lyk nie. Selfs toe ek moes aangaan met ’n storm agter my oë.
My songs kom uit daai plek. Daai plek waar jy moeg is, maar nie klaar nie. Waar jy huil, maar jou hande begin beweeg. Waar jy seer het, maar jy begin bou. Waar jy iemand mis, maar jy mis jouself meer. Waar jy sê: fok dit, ek gaan nie hier sterf nie.
So ja, daar is seer in my musiek. Maar daar is altyd vuur ook.
Want ek skryf nie om op die grond te bly lê nie. Ek skryf om op te staan.

.png)
.png)


Comments